
Met ’n skelgeel springkasteel, ’n sokkerveld, doolhof en talle ander interessante hoekies, het kinders hulle vanjaar gate uit by die KKNK se kindervermaak-hoekie in die Kuierbuurt, genaamd Speelbos, geniet.
Met die eerste opslag lyk Speelbos dalk slegs na ’n plekkie waar kinders besig gehou word met rondhardloop en spring, maar nadat ek self ’n dag saam met my kinders daar deurgebring het, het ek besef dis soveel meer.
Die span wat vir die kindervermaak verantwoordelik was, het dit met soveel oorgawe gedoen.
Die kinders is bederf met dinge soos ’n skattejag, konserte, talent- kompetities en vele meer.
Die reën op een van die dae van die fees het nie die vrolike atmosfeer in Speelbos gedemp nie en was die lees van ’n boek ook groot vermaak vir die kinders van alle ouderdomme.
Bekende karakters soos Tjiff en Tjaff, Lollos en karakters uit Klikkerland het ook die kinders kom verras en saam met hulle gespeel.
My kinders het elke aand vuil en doodmoeg by die huis aangekom, maar kon nie wag om die volgende dag terug te keer nie.
Aan die organiseerders van Speelbos wil ek graag ’n pluimpie gee: Julle het sowaar my verwagtinge oortref, en ek is seker die van ’n hele paar ander ouers.
Ons sien uit na wat julle volgende jaar gaan doen!
– Angelique Erasmus